Dekades van toewyding, generasies van kwaliteit - welkom by die AG Bonsmara-nalatenskap!
AG Bonsmara teel nou al drie familie generasies met Bonsmaras - die eerste Bonsmara bulle is gebruik in 1958 op suiwer Afrikaner koeie. Omdat die vordering m.b.t. produksie en bouvorm nie in daardie tyd noemenswaardig was nie het my Pa (Arthur Greyling de Villiers – AG) met sy Proffesor, mentor en vriend – Prof. Jan Bonsma gesels hieroor. Prof Jan het aanbeveel dat ons eers hoofsaaklik Sussex en Suid Devon bulle op die Afrikaner koeie gebruik en DAN Bonsmara bulle op hierdie halfkruise. Hierdie was n baie goeie aanbeveling wat uitstekend gewerk het omdat vrugbaarheid, groei, vleisbouvorm, temperament ens. onmiddelik met hierdie kruis verbeter het. Op hierdie kruise is toe volgehou om Bonsmara bulle te bebruik – om te teel na suiwer Bonsmaras. Met die stigting van die Bonsmara Genootskap in 1964 was hierdie boerdery verteenwoordig deur my Pa se broer (F de Villiers) – namens JM de Villiers (my ouma met die voorvoegsel JM) vir wie hulle saam geboer het.
AG Bonsmaras het sy ontstaan gehad in Noord Transvaal – Thabazimbi omgewing – tussen Makoppa en Rooibokkraal. In 1985 het ons as kort termyn oplossing, vir weereens n groot droogte, die kernkudde Stoet Bonsmaras geskuif na Memel in die Noord-Oos Vrystaat. Vanaf 1990 word met AG Bonsmaras op die plaas Arcadia – Distrik Vrede, geboer.
A.g.v. hierdie lang verbintenis en teel van Bonsmaras is die AG diere bekend as geharde beeste wat oral in die land aanpas. Dit is medium raam diere met goeie bouvorm, bespiering en erfdwang. Vir hierdie eienskappe is 65 jaar voor geselekteer - sonder afwyking – daarom die erfdwang.
‘n Groot persentasie Bonsmara kuddes (Stoet en Kommersieël) het AG bulle gebruik of gebruik nou nog AG bulle. Ons maak seker dat inteling nie n probleem word nie en dus kan telers wat n paar jaar gelede AG bulle gekoop het, met vrymoedigheid ons weer kom besoek met die oog om AG genetika nog beter te vestig. Jy kan nie verkeerd gaan met AG Bonsmara genetika nie!
Sien jou die 12de April om 11:00 vir ons 31ste produksieveiling.