Dormer-ram behaal spiekeries prys op veiling

Die Dormer-ram Spiekeries het op 24 September ’n rekordprys van R510,000 op ’n produksieveiling behaal.

Van links is mnre. Ian Grobbelaar, afslaer, Johnny Forbes snr. , Johnny Forbes jnr. , koper, Dano van Zyl van Vleissentraal Bethlehem, en Johan Barnard, verkoper van Johanri Dormers.

Foto: Izaan Barnard

Die Suid-Afrikaanse rekords het op 24 September behoorlik gespat op die 4x4 Dormer-veiling wat drie Vrystaatse telers aangebied het.

Johanri Dormers by Lindley kan nou ’n hele rits rekordpryse agter hul naam sit, onder meer vir die duurste Dormer-ram en -ooi.

Mnr. Johan Barnard van Johanri sê die vorige Suid-Afrikaanse rekordprys vir ’n Dormer-ram was R350 000. Sy ram Spiekeries (Lot 1) is gister vir R510 000 aan mnr. Johnny Forbes van Vredesig Dormers by Darling in die Wes-Kaap verkoop.

Johanri het ook ’n baie goeie prys behaal met die ram Sniper (Lot 3), die tweede duurste ram op die veiling, wat vir R200 000 aan mnr. Hano Pienaar van OneShot Dormers verkoop is.

Die goeie pryse is behaal selfs al kon die veiling, weens bek-en-klouseerverwante beperkings, net aanlyn gehou word. Geregistreerde kopers kon wel vooraf die diere van die drie betrokke telers besigtig.

Die twee ander telers wie se diere opgeveil is, is mnre. Peet van Rooyen van Umpukane Dormers by Clocolan en Charles Church van Leeukop Dormers by Rouxville.

Altesame 35 ramme, 35 SP-ooie en 51 kommersiële ooie het onder die hamer gekom.

’n Ooi van Johanri is vir ’n Suid-Afrikaanse rekordprys van R180 000 aan mnr. Mich Turner van Wanstead Dormers by Cedarville in die Oos-Kaap, naby die grens met KwaZulu-Natal, verkoop. Turner het ook die tweede hoogste prys vir ’n ooi, óók ’n Suid-Afrikaanse rekord, betaal, naamlik R130 000. Barnard sê die vorige hoogste prys vir ’n ooi, wat op die nasionale veiling behaal is, was sowat R80 000.

’n Kommersiële ooi van Johanri (Lot 41) het die hoogste prys vir ’n kommersiële ooi behaal, naamlik R22 500. ’n Kraaltjie van vyf dragtige kommersiële ooie van Johanri is vir R10 000 stuks verkoop. Nog ’n kraaltjie van vyf oop ooie van Johanri is vir R7 000 stuks verkoop.

Johanri se ramme het gemiddeld R85 545 behaal en sy ooie gemiddeld R84 062.

“Ek voel baie geseënd,” sê Barnard. Kopers is volgens hom bereid om goeie pryse vir goeie genetika te betaal.

Sowat 70 kopers van reg oor die land het vir die veiling geregistreer, wat deur Vleissentraal Bethlehem aangebied is met SwiftVEE wat die aanlyn aanbieding hanteer het.

Klik hier om die volle artikel op Landbou.com te lees.

Dit was vir SwiftVEE ‘n voorreg om die 4x4 Dormer Aanlyn-veiling te behartig.

Previous
Previous

CEO Outlook 2023 – Hug a South African Farmer & Say Thank You

Next
Next

Quality and Efficiency at the Malemba Farming 25th Production Auction