Beurtkrag: ‘Vlak 6 onaanvaarbaar vir landbou'

Van die trekkers waarmee die landbougemeenskap Vrydag by GWK se perseel op Douglas byeen gekom het. Boere het onder meer met trekkers en waens vol produkte op Douglas saamgekom om hul kommer en misnoeë met die kragkrisis en beurtkrag se verwoestende impak op hul boerderye duidelik te maak. Foto: Charné Kemp.

Eskom is bereid om die landbousektor tegemoet te kom omdat die impak van beurtkrag hierop meer drasties en tasbaar is.

Die uitvoerende hoof van die beleërde Eskom, mnr. André de Ruyter, het Sondagoggend tydens ’n mediasessie gesê hoewel baie sektore in die land daarop kan aanspraak maak dat hulle uitsonderings is as dit by kragvoorsiening en beurtkrag kom, is landbou regtig spesiaal.

De Ruyter het gesê hy het onlangs met me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en van haar amptenare vergader. “Die vergadering was baie positief. Aan albei kante is die verstandhouding goed. Ek dink landbou is regtig ’n baie spesiale geval. Sekere gewasse moet byvoorbeeld aanhou besproei word en het verkoeling nodig om produkte koud te hou.”

“Ons wil met boere en landbouverenigings vergader en gesels oor hoe ons hulle tegemoet kan kom wanneer baie hoë vlakke van beurtkrag ingestel word, juis om boere te help om steeds na hul gewasse om te sien wat uiteraard bydra tot voedselsekerheid en uitvoerinkomste.”

Eskom wil volgens hom veranderings en maatreëls begin instel wat landbou kan help en tegemoetkom.

Mnr. Jan Oberholzer, bedryfshoof van die kragreus, het bevestig hy het met verteenwoordigers van Agri SA vergader, soos voorheen op Landbou.com berig. “Ons het indiepte-gesprekke gevoer oor hoe beurtkrag boerderybedrywighede raak. As Eskom moet ons begin kennis neem van die impak van beurtkrag op die landbousektor. Dit is duidelik uit die gesprekke gemaak dat vlak 2 hanteerbaar is,  maar vlak 4 maak bedrywighede uiters moeilik. Vlak 6 is heeltemal onaanvaarbaar vir die landbou.”

Hy het ook verwys na besproeiingsboere wat as deel van Ruraflex tydens beurtkrag net gedurende duur spitstye kan besproei wanneer krag wel beskikbaar is.

Volgens hom gaan Eskom nou ’n span saamstel en spesifiek met Agri SA saamwerk oor hoe die sektor verder ondersteun en bygestaan kan word.

De Ruyter het egter benadruk Eskom is nie die antwoord vir alle probleme wat beurtkrag betref nie.

“Sommige boere is afhanklik van munisipale infrastruktuur vir hul kragvoorsiening. Ons gaan sukkel om in hierdie gevalle in te gryp, maar boere wat van Eskom afhanklik is vir krag, kan ons help. Ons werk ook nou saam met die departement om maatreëls gereed te kry wat boere sal kan bystaan wat veral kritieke tydsensitiewe elektrisiteitvoorsiening benodig.”

Eskom het Sondag gesê hy wil alles in sy vermoë doen om vir die volgende twee jaar beurtkrag tussen vlak 2 en vlak 3 te hou juis om mense en besighede die geleentheid te gee om beter te beplan. Die land kan moontlik van Dinsdag af terugkeer na vlak 2-beurtkrag gedurende die dag, maar Oberholzer het ook gewaarsku enige onbeplande gebeure kan hierdie plan in die wiele ry.

Vlak 3-beurtkrag sal wel saans ingestel word.

Klik hier om die oorspronklike artikel te lees.


Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (SAAI) het stappe geneem om die kwessie van vlak 6-beurtkrag aan te spreek deur 'n vorm te skep vir boere om in te vul om hulle liggings te identifiseer.

Hierdie inligting sal oorhandig word aan Eskom as hulle besluit om 'n uitsondering vir boere toe te pas.

Deur hierdie vorm in te vul, kan boere help om soveel as moontlik van die landbou-gemeenskap te identifiseer. Om te help, vul asseblief die vorm met een van die onderstaande skakels in Afrikaans of Engels in.


Previous
Previous

Top-Quality game at the Lentegeur Wildlife & Co Wildlife Auction

Next
Next

G10 Bonsmara Stoet Produksieveiling