Hencor Bonsmaras - Produksieveiling

Hencor Bonsmaras hou op 28 September 2023 in samewerking met Vleissentraal, Bloemfontein, produksieveiling op die plaas Kalkfontein, Dewetsdorp Distrik. Die aanbod sluit in 25 SP bulle en 110 kommersiële vroulike diere in verskillende stadiums van produksie. Laasgenoemde sluit in dragtige koeie, dragtige verse en oop verse gereed vir die bul.

Ons dank en waardering aan die volgende gasverkopers, wie vroulike diere op ons veiling gaan aanbied:

  • Hendri Viljoen van Ricon Boerdery, Dewetsdorp

  • Gideon Joubert van Gideon Joubert Boerdery, Dewetsdorp

  • Dr Geofré Heyns van Karmel Bonsmaras, Bloemfontein

Hencor Bonsmaras is in Januarie 1996 as kommersië kudde begin met 38 kommersiële koeie en met 12 kalwers uit die kudde van Norton Thompson van Komga. Daarna is dragtige koeie en verse aangekoop van Umpukane Bonsmaras van Hans van Rooyen en DIV Bonsmaras van oorlede oom Viljee Crous. Nadat ons onder andere 5 stoet verse by oom Viljee aangekoop het, moedig Henni e Snyman van Paradigm Veekundige Adviseurs ons aan om ‘n bonsmara stoet te begin.

Gevolglik en na oorweging van die potensiële veral lang termyn voordele wat ‘n stoet kan inhou, het ons op 1 Augustus 1996 as stoetteler by BonsmaraSA geregistreer. Dit het vir ons sin gemaak om ‘n beter gehalte stoet dier met potensiële hoër intrinsieke waarde aan te hou en oor tyd te verbeter, as om met kommersiële diere oor die lang termyn te boer.

Ons boer van dag 1 af aan die hand van beginsels wat in stoetteling gevolg word. Ons het dadelik ‘n oliebadskaal en trekskaal aangeskaf en weeg van dag 1 ons stoet sowel as kommersiële diere by geboorte en speen om aan die hand daarvan ingeligte besluite te neem betreffende die prestasie van diere. Ons maak oorspronklik van Stoetmeester gebruik en skakel later oor na Bengufarm, wat ons vandag nog gebruik vir die administrasie en bestuur van ons stoet-sowel as kommersiële diere.

Ons het altyd probeer om relatiewe goeie bulle aan te koop en het dan aan die hand van sorgvuldige seleksie en uitskot die gehalte van ons kudde oor jare verbeter. Slegs diere wat op ‘n jong ouderdom die potensiaal wys om goeie teeldiere te word, word teruggehou. Die res word as speenkalwers bemark.

Ons was oor die jare uiters sensitief vir kostes en dien lekke toe per dier per dag volgens voorskrif. Ons doen al vir jare Fase D groeitoetse op die veld met ‘n goeie byvoeding, Ons het nog altyd bulle op die veld geteel, op die veld getoets en op die veld afgerond vir gebruik op die veld. Ons voel dit was en is die beste manier om aan ons kopers die bes moontlike aangepaste diere vir die veld te produseer.

Ons uitgangspunt is om saam met die natuur te boer en nie uiterstes na te jaag nie. Prof. Jan Bonsma: “Nature does not tolerate extremes.” Ons bly grootliks weg van TE. Soos ons dit jare gelede op ‘n advertensie van Hencor Bonsmaras gestel het: “Nie TE groot nie, nie TE klein nie, nie TE vet nie, nie TE maer nie.....net TEvrede klante!” Dit is al hoe die gebruik van die term TE vir ons geregverdig is!

Gevolglik streef ons daarna om vrugbare, mediumraam diere te teel met goeie sprong van rib en kapasiteit. Ons het oor jare baie aandag aan skrotums van ons bulle gegee en glo ons pluk vandag die vrugte daarvan. Ons probeer ook diere teel wat vlesig is en vermy sogenaamde harde, droeë bespiering. Ons ervaring is dat laasgenoemde tipe diere nie goed op die veld presteer, veral nie ten tye van droogtes nie.

 Die bestuur van ons weiding is vir ons baie belangrik en volg ons ‘n wisselweiding stelsel waarvolgens ons poog om die helfte van ons beskikbare weiding elke jaar vir ‘n jaar te laat rus. Soos Hennie Snyman by geleentheid opgemerk het, ons is inderwaarheid gras boere en maak van beeste gebruik om ons gras in geld te omskep. Gras bestuur is dus van kardinale belang.

Op 1 Augustus 2023 vier ons die 27’e bestaansjaar van die Hencor Bonsmara Stoet. Dit is vir ons ‘n groot voorreg dat ons al hierdie tyd en gesondheid gegun is om ons liefde vir bonsmaras te kon uitleef. Ons is dankbaar teenoor ons Skepper vir die voorreg.

Dit sal vir ons lekker wees om u op 28 September 2023 op Kalkfontein, Dewetsdorp by ons produksieveiling te verwelkom. Ons nooi u graag daarheen uit en hoop om u daar te sien!

Vir verdere navrae, skakel my gerus of kontak my op Whatsapp of per epos.

U is ook welkom om die veilingsbulle vooraf te kom besigtig. U kan maar net skakel dan reël ons ‘n datum en tyd.

Baie dankie dat u die tyd afgestaan het om hierdie skrywe te lees.

Met vriendelike groete

 Hentie van Eck

HENCOR BONSMARAS

Previous
Previous

SwiftVEE is Coming to Namibia – Don’t Miss the Bus

Next
Next

Glendor Bonsmara & Zatara Brahmane